Hoërskool Ben Vorster | Tzaneen Hoërskool | Tzaneen High School

Toekie Vorster - Historiese Oorsig

Die Toekie Vorster dameskoshuis is op 15 Mei 1962, met 129 meisies as die eerste inwoners, in gebruik geneem.

Die koshuis is vernoem na ‘Tannie’ Toekie Vorster. Sy en haar eggenoot,  Ben Vorster, was pioniers in die Laeveld. Ben en Toekie Vorster het ‘n sleutelrol gespeel in die totstandkoming van die Hoërskool Ben Vorster. Toekie was ‘n ware dame en het nie net ‘n betekenisvolle bydrae in haar gemeenskap gelewer nie, maar het ook haar man bygestaan in sy rol as politikus en boer en het haar kinders met sorg groot gemaak. 

Die Hoërskool Ben Vorster het as eerbewys en erkenning vir haar bydrae sy dameskoshuis na haar, Toekie Vorster, vernoem. Sy het ‘n groot rol gespeel in die vroeë jare van die Hoërskool Ben Vorster se groei.

 

n Terugblik van een van ons eerste inwoners…

Aan die begin van 1962, toe die skole heropen het, was die koshuise by die nuutgeboude Tzaneen Hoërskool nog  nie voltooi nie.  Ons klompie  Std 9-leerlinge wat moes inwoon, het nog by Hoër Landbouskool Merensky se koshuise gewoon en  skool toe en terug gependel.  ‘n Paar maande later het ons groep  seuns en dogters in die splinternuwe meisieskoshuis ingetrek – die dogters in vleuel A en die seuns in vleuels B en C. 

Die terrein was nog ‘woes en leeg’ ! Omdat die seunskoshuis nog nie voltooi was nie en daar nie ‘n ander opsie was  nie moes die seuns en meisies  saam in die eetsaal geëet het: 4 seuns  en 4 dogters -Std. 6-9 (vandag se Gr 8-11) het aan een tafel gesit.  Dit was die waarnemende hoof, Dr. Nic Weideman, se idée om almal glo beter tafelmaniere te leer- wat ‘n situasie! Almal was skaam: die meisies  was ongemaklik en die seuns stom. Almal het dus waarskynlik minder geëet - en die kos was juis so lekker!

Mnr. Jan Slabbert was koshuisvader. Ek onthou hoe baie keer hy inspeksie gedoen het.  Wat  hy nie geweet het nie, is dat ons sy koms verwag het as gevolg van sy pyp se reuk en sy klein brakkie wat hom vooruitgeloop het. Dr. Weideman en sy gesin het ook in een van die woonstelle ingetrek. ‘n Bloedjong  mnr. en mev. Lewellyn Labuschagne het in een van die woonstelle gebly saam met twee std.9-meisies!  Mev. Ansu Tosen (toe nog Mej. Breytenbach)  sowel as mej. Vogel was ook inwoners in die koshuis.  Van die ander kan ek nie meer onthou nie.

Vrydagmiddae moes al die leerlinge se ouers die verlofboek  by die personeellid aan diens telen  voordat die leerlinge die koshuis vir die naweek kon verlaat.  Dr. Weideman het hard probeer om al die std. 9's tot Saterdag na oggendstudie te laat bly.  Die ontevrede ouers, natuurlik die leerlinge en asook die brandstofbeperkinge het hom inderdaad gou van die idee laat afsien.

Dit was ‘n wonderlike en  heerlike begin van ‘n baie spesiale twee jaar in ons lewens.  Die skool was ons trots en die koshuis  ons tweede huis waarvan ek net goeie herinneringe koester met persone wat saam met my die pad daar begin het – party met wie ek nog steeds kontak het  en ander wat ongelukkig nie meer met ons is nie.

Dit was jare gelede en nou is my oudste kleinkind ook al amper klaar by Hoërskool Ben Vorster.

Baie dankie dat ek hierdie paar herinneringe met julle kon deel.

Henna Minnaar  (Ebersohn)